Psalm 23(1933-vertaling); Johannes 10:1-21
Psalm 23 is een van die mees vertroostende gedeeltes in die Bybel, en die belofte daarvan is iets waaraan menige siek of sterwende mens al vasgehou het. En vir baie ander sal dit ook nog ‘n vertroosting wees, veral as ons dit saamlees met ander gedeeltes (bv. Eseg 34 en Joh 10) wat vertel van die Here, ons Herder.
Die Psalm is niks anders as ‘n Ou Testamentiese gelykenis nie. Dit is seker gebore uit Dawid se tye as skaapwagter. Na analogie van die interaksie tussen die skaapwagter en die skape, sien hy die verhouding tussen die Here en sy kinders.
In die Ou Testamentiese tye het elke dorpie of familieboerdery sy eie sentrale skaapkraal gehad. In die aand los die herder die skape daar en ‘n wag pas die skape gedurende die nag op. Geen skelm kan by die ingang inkom nie, daarom sê Jesus dat Hy die ingang is – iemand wat sy skape benader deur oor die muur te klim is rowers en diewe. Hulle is die vals herders (Eseg 34) en die vals leraars(Hand 20:29 en 1Pet 5:2-3). Hulle nader die kudde vir eie gewin, en nie omdat hulle die skape se welstand op die hart het nie. Ons sien hierdie tipe diewe en rowers vandag nog afsluip op Jesus se skape.
In die oggend kom elkeen van die herders om hulle skape uit die kraal te haal. Hulle roep hulle by die naam, en hulle volg gewillig. Só roep God ons elkeen by die naam. Die herder lei sy skape na waar hulle groen gras kan eet. Ons Herder lei ons om die groen gras van sy Woord in te neem. As ons nie daarvan eet nie, sterf ons geestelik. Hy praat met ons in ons Bybelleestyd, in preke, in Bybelstudie, in geestelike gesprekke en in ons blootstelling aan die Woord.
Die dag word soms baie warm, dan lei hy sy skape na ‘n oasis, so bring die Here daagliks verkwikking vir ons, deur sy Gees wat ons laaf in allerlei situasies. Die 1953 vertaling praat van “verkwik my siel”. Dit beteken: Hy gee vir ons nuwe geestelike krag.
Daar is ook baie gevare op die pad van die skaapkudde. Van hulle dwaal af en beland op hoë rotse, of val in ‘n gat of ‘n put. Soms verdwaal een en land in ‘n “Dal van doodskaduwee”. Maar selfs dan sê Dawid weet hy dat die Here hom bewaar, bloot omdat hy kind van die Here is. Dit verwys seker na fisiese tye, soos siekte, oorlog of vyande wat Dawid bekruip. Maar dit dui ook op die mens se geestelike nood. Die lewensnood van ‘n verlore siel.
Hoewel die Here reeds in die Ou Testament die uitkoms van hierdie sielenood beloof en profeteer, realiseer dit in die Nuwe Testament, deur Jesus Christus, die Goeie Herder (Joh 10), wat sy lewe vir sy skape aflê. Jesus sterf in die dal van doodskaduwee, sodat ons kan leef! Jesus ontvang ons soos eregaste (Ps 23:5) wanneer Hy ons laat aansit by sy maaltyd, die Nagmaal. Maar nie net fisies met Nagmaalsviering in die gemeente nie, maar ook op simboliese wyse omdat ons elke dag as’t ware aan sy tafel sit.
Mag u en ek die Goeie Herder ken, en elke dag leef onder sy versorging en bewaring! Want Jesus is die ware Herder.
Oudl Sollie Nel